110
pages
Afrikaans
Ebooks
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Découvre YouScribe et accède à tout notre catalogue !
Découvre YouScribe et accède à tout notre catalogue !
110
pages
Afrikaans
Ebooks
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Publié par
Date de parution
01 juin 2021
Nombre de lectures
1
EAN13
9781776250394
Langue
Afrikaans
Of jy nou glo in die noodlot of blote geluk of liefde met die eerste oogopslag, alle liefdesverhoudings moet iewers begin. Dié bundel bevat verhale oor eerste ontmoetings deur gevestigde skrywers soos Jaco Jacobs, Zelda Bezuidenhout, Refiloe Moahloli en Sally Partridge en nuwe stemme soos Cliffordene Norton en Mercy Kannemeyer.
Die verhale is soms romanties, soms snaaks, soms alledaags, soms buitengewoon ... en die eindes meestal gelukkig. Die bundel is ryk aan diversiteit en bied ’n verskeidenheid wat betref identiteit, karakters en agtergronde.
Publié par
Date de parution
01 juin 2021
EAN13
9781776250394
Langue
Afrikaans
Pan Macmillan
www.panmacmillan.co.za
Die meisie met uitroeptekens in haar oë
Jaco Jacobs
My oggend begin met ’n uitroepteken.
’n Twee meter lange uitroepteken, as ek moet skat, in perfekte 3D geverf, met ’n geel-en-blou weerligstraalpatroon wat dit versier.
“Hei, wat doen jy?” fluister ek.
Die figuur met die swart hoodie vries toe ek die buitelig aansit. Die gesis van die spuitblikkie word stil.
’n Meisie, sien ek verbaas toe sy omswaai. Blonde hare stroom weerskante van haar gesig onder die kappie uit. In haar oë is mini-weergawes van die reuse-uitroepteken teen die muur.
Sy spring rats van die metaalvullishouer af. Bloedrooi sneakers land geluidloos op die plaveisel, asof sy een of ander superhero is. Ek verwag sy gaan weghardloop, maar ...
“Wat de hel dink jy doen ek?” vra sy.
Oukei, as dit uitroeptekens van skrik was wat ek in haar oë gesien het, het dit blitsvinnig in iets anders omgesit. Vanuit die skaduwees onder haar hoodie hou sy my uitdagend dop. Haar ken uitgestoot en die spuitverfblikkie soos ’n gevaarlike wapen in haar een hand vasgeklem.
Ek kyk na die uitroepteken teen die koffiewinkel se muur, en beduie na die ry spuitverfblikkies op die grond.
“Die graffiti ... oom Jack het die vorige keer amper iets oorgekom,” stotter ek.
“Siestog,” sê sy sarkasties. “Wie’s oom Jack?”
Ons asems maak wolkies in die oggendkoue, soos spraakborrels in ’n comic-boek.
Ek beduie na die helderverligte naambord in die parkeerterrein. Hier waar ons in die stegie langs die winkel staan, is die naam agterstevoor: JACK’S BEANS.
“Die eienaar van die koffiewinkel ... oom Jack.”
Sy kyk na my en grinnik. Verleë besef ek ek het nog steeds die vullissak in my hand. Ek stap nader, lig die vullishouer se deksel en gooi die sak daarin. Toe ek omdraai, verwag ek so half dat sy nie meer daar sal wees nie. Met my rug op haar gedraai, was dit immers die ideale geleentheid om haar uit die voete te maak.
Maar sy is nog steeds hier.
Langs die ry blikkies is ’n swart rugsak. Sy hurk op die grond en begin die blikkies spuitverf daarin pak.
“So, werk jy in die koffiewinkel?” vra sy sonder om op te kyk.
“Net naweke,” sê ek.
“Hoekom?”
Ek sluk verbaas. Dit voel asof ék die een is wat op heterdaad betrap is en ondervra word. “Wel ... ek spaar ...”
“Waarvoor?”
Oukei, so sy het nie net ’n ding met uitroeptekens nie – sy skrik duidelik ook nie vir vraagtekens nie.
“Vir ná skool,” sê ek. “Om te gaan swot. My ma maak my alleen groot ...”
“Wat wil jy swot? Of wag, laat ek raai ... regte ... of medies?”
Ek maak of ek nie die spot in haar stem hoor nie. “BRek. Maar ek’s eers oor twee jaar klaar met skool.”
Sy rits die rugsak toe en kom orent. “Wie probeer jy beïndruk?” vra sy.
My ore word warm. “Wat bedoel jy?”
Sy trek haar skouers op. “Jy klink te goed om waar te wees. Meneer BRek-perfek wat in ’n koffiewinkel werk sodat hy eendag self vir sy studie kan betaal.”
Ek hap verontwaardig na woorde. “Dis nie ... ek ...”
Haar skouers skud liggies.
Flippit, nou lag sy vir my.
“Hoekom uitroeptekens?” probeer ek my verleentheid wegpraat.
Sy byt op haar onderlip en bekyk haar handewerk teen die muur.
“Skrik wakker,” sê sy.
“Wat?”
“Die meeste mense slaap.”
“Nie die drawwers en fietsryers nie,” sê ek, ’n klein bietjie aspris. “Hulle is douvoordag al op, selfs in die winter. Kyk maar, oor ’n halfuur gaan die eerstes kom koffie soek.”
“Jy weet dis nie wat ek bedoel nie,” sê sy, skielik driftig. “Het jy al ooit vroegoggend na die koerantplakkate teen die lamppale gekyk? Het jy al gesien wat regtig alles in die wêreld aangaan? Die meeste mense ry elke liewe dag verby daardie plakkate sonder om dit regtig raak te sien. Want hulle is vas aan die slaap. Hulle swot, werk, maak kinders groot, word oud ... asof dit alles net ’n lang, eentonige droom is. Die gemaklike middelklasdroom waaruit hulle nooit wil wakker word nie. Want dit is te veel moeite om ’n verskil te probeer maak. ’n Uitroepteken sê skrik wakker. Dit sê ...”
“Kieran!”
’n Harde stem sny deur die koue oggendlug.
“Waar bly jy so lank? Maak soos ’n blerrie teelepel en roer jou! Die tafels gaan nie hulleself uitpak nie.”
“Ek is nou daar, oom Jack!”
Stilte.
“Praat hy altyd so met jou?” vra sy.
Ek sug. “Jip. Oom Jack is my ma se neef. Hy gaan nooit ’n prys wen vir die coolste baas op aarde nie.”
“So, hoekom kry jy nie ’n ander werk nie?”
Ek skud my kop. “Jy laat dit so maklik klink. Kom ons praat eerder verder oor uitroeptekens. Jy wou nog iets daaroor sê?”
Sy haal haar hoodie se kappie af. Haar oë is groot en katgroen. Sy rits weer die rugsak oop en haal iets daaruit.
“Hier.” Sy hou ’n blikkie spuitverf na my uit.
Ek lag ongelowig. “Wat?”
“’n Uitroepteken,” sê sy en beduie na die muur. “Toe.”
“Jy’s nie ernstig nie!”
Haar oë sê sy is.
“Oom Jack sal ’n aar in sy kop bars,” protesteer ek. “Raai bietjie wie moes jou vorige uitroepteken van daai muur afskrop. Wat wed ek jou, sodra die ergste oggend-rush verby is en oom Jack jou kunswerk hier teen die muur ontdek, gaan dit my werk wees om dit daar af te kry.”
Sy hou steeds die spuitverfblik na my uit.
Ek vou my arms voor my bors.
Sy laat die blikkie sak.
“Kieran!”
My naam kom oor die stoep van die koffiewinkel aangedawer.
“Ek is nou daar, oom Jack!” roep ek. “Ek ... ek tel net gou die vullis op wat iemand laas nag uitgegrawe het.”
“Los die verdomde vullis!” bulder hy. “Ons moet oor tien minute oopmaak. Party dae dink ek wragtig jy’s net so sleg soos daai nikswerd pa van jou!”
Sy kyk vir my.
“Hou op om so vir my te kyk,” brom ek.
En tog is ek nie seker of ek dit regtig bedoel nie. Ek dink sy het die mooiste oë wat ek nog ooit gesien het. Wakker, slim, geheimsinnige oë.
Sy rits haar rugsak toe, draai om en begin wegstap.
“Hei, wag!” keer ek. “Jammer, ek het nie bedoel ... Luister, ek dink jou uitroeptekens is regtig cool. Ek het dit al op ander plekke in die stad gesien. Op pad skool toe, en teen die bushalte by die parkie naby ons huis. Ek ...” My gesig gloei in die koue. “Dit sal great wees as jy my meer daarvan kan vertel – van jou uitroeptekens, bedoel ek. Ek weet nie eens wat jou naam is nie. Ek ...”
Maar met ’n flits van haar rooi sneakers is sy weg. Vir ’n meisie wat van uitroeptekens hou, kan sy verbasend stilletjies verdwyn. Dis asof die skaduwees haar ingesluk het.
“Kieran!” bulder oom Jack.
Ek kyk ’n oomblik lank na die geel-en-blou uitroepteken. Dan draf ek weg om die tafels te gaan regsit.
Oom Jack is die hele oggend in ’n skouspelagtige goor bui.
Hy verskree my toe ’n klant kla omdat sy ’n americano in plaas van ’n cappuccino gekry het. “Waar is jou kop vanoggend, Kieran? Dit is mos nou nie hoërgraadwiskunde nie; dis koffie. Kan jy wragtig niks reg doen nie?”
Ek kners op my tande en sê niks, al weet ek voor my siel dit was hy wat die bestelling verkeerd gekry het.
Teen tienuur se kant begin die winkel rustiger raak. Oom Jack is agter in die pakkamer doenig. Ek is besig om die toonbank af te vee, toe iemand ingestap kom. Die eerste wat ek sien, is die rooi sneakers. Ek kyk verbaas op.
Groen oë. ’n Rooi sweetpaktop in plaas van die hoodie. Haar bos krullerige blonde hare is nou in ’n poniestert vas.
Selfbewus vee ek oor my voorskoot.
“Koffie?” vra ek.
Sy skud haar kop. “Ek drink nie koffie nie.”
Sy gee iets oor die toonbank vir my aan.
Terwyl sy uitstap, bly ek verbaas staan met die blikkie spuitverf in my hand.
“Hei, wag!” roep ek agter haar aan. “Asseblief, ek ...”
Vir die tweede keer vandag glip sy weg terwyl ek nog met haar probeer praat.
“Kieran, kom vat die melk hier!” roep oom Jack uit die pakkamer.
Ek druk vinnig die blikkie spuitverf in my voorskoot se sak. “Ek kom, oom Jack!”
Die meisie met die rooi sneakers bly heeldag in my gedagtes.
Toe oom Jack skuins voor twaalf bank toe gaan, haal ek dadelik my foon uit. Ek google graffiti , Bloemfontein en uitroeptekens – elke denkbare soekwoord waaraan ek kan dink. Nêrens is leidrade nie. Nie ’n anonieme Instagram-rekening, ’n Facebook-groep of ’n hashtag wat my meer oor haar kan vertel nie.
Ek weet nie wat haar naam is nie.
Ek weet nie in watter skool sy is nie.
Ek weet nie hoe om haar weer in die hande te kry nie.
Ek weet nie hoekom ek haar nie uit my gedagtes kry nie.
Sê nou ek sien haar nooit weer nie?
Op pad terug van die bank af, sien oom Jack die graffiti. Hy ontplof behoorlik.
“Verdomde vandale! Kon jy nie vroeër iets gesê het nie, Kieran? Moenie vir my sê jy’t dit nie raakgesien toe jy vanoggend buite by die vullisdromme was nie. Het jy nie oë in jou kop nie?”
“Jammer, oom Jack.”
Tannie Gladys, wat in die kombuis werk, kyk simpatiek na my.
“Vergeet van jou middagetebreek,” knor oom Jack. “Jy vat die skropborsel en terpentyn, en jy raak van daai gemors teen my winkel se muur ontslae. Hoor jy my?”
“Ja, oom Jack.”
’n Paar minute later staan ek weer voor die uitroepteken.
Háár uitroepteken.
Die winterson bak op my rug. Die reuk van die terpentyn prik skerp in my neusgate.
Party dae dink ek wragtig jy’s net so sleg soos daai nikswerd pa van jou!
Ek hoor al van kleins af hoe sleg my pa was. Hoe hy nooit ’n werk kon hou nie. Sy geld uitgedobbel het. My ma net so gelos het toe sy swanger was met my. Spoorloos verdwyn het.
Wie probeer jy beïndruk?
Dit voel of ek al sestien jaar lank vir almal probeer wys ek is nie soos hý nie.
En ek ís nie. Dít weet ek.
Maar wie is ék?
Ek sit die bottel terpentyn op die vullishouer neer en steek my hand in my voorskoot se sak. Die blikkie spuitverf is koel onder my vingerpunte. Ek haal dit uit. Signal Red , sê dit langs die bloedrooi kolletjie op die blik.
Stoptekenrooi.
Ek klik die prop af.
’n Glimlag sprei stadig oor my