39
pages
Afrikaans
Ebooks
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Découvre YouScribe et accède à tout notre catalogue !
Découvre YouScribe et accède à tout notre catalogue !
39
pages
Afrikaans
Ebooks
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Publié par
Date de parution
01 avril 2021
Nombre de lectures
0
EAN13
9781776250486
Langue
Afrikaans
Poids de l'ouvrage
1 Mo
Minki en haar maats is opgewonde oor die skoolkonsert wat voorlê. Hulle klas gaan Aspoestertjie opvoer, en dit gaan fantasties wees! Minki en Natalie is seker Lara gaan die hoofrol kry. Sy kan baie goed dans, en boonop is Aspoestertjie haar gunsteling-sprokiesprinses. Hulle kan nie wag om te sien hoe sy in haar droomrok lyk nie! Maar by die oudisie loop dinge onverwags skeef … Gaan Minki dit regkry om soos ’n regte Goeie Fee haar towerstaffie te swaai en die konsert te red?
Publié par
Date de parution
01 avril 2021
EAN13
9781776250486
Langue
Afrikaans
Poids de l'ouvrage
1 Mo
Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za
Hoofstuk 1
Konsertplanne
“Pssst!”
Minki frons en kyk op van die begripstoets waarmee sy besig is.
Die klas is stil. Almal konsentreer op hulle werk. Juffrou Adams sit by haar lessenaar en merk.
“Pssst!” Minki sien hoe Natalie haar en Lara se aandag probeer trek.
“Wat?” fluister Minki.
“Wat is vandag in julle kosblikke?” vra Natalie gedemp.
Minki en Lara kyk vir mekaar en glimlag. As Natalie so bekommerd lyk oor pousekos, kan dit net een ding beteken – haar ma het seker weer vir haar iets ingepak met pynappel in. Pynappel-jogurt, pynappelsap, oorskietpizza met pynappel of toebroodjies met pynappelkonfyt. Natalie kla altyd dat pynappel haar tong laat jeuk. Minki is nie eens seker of ’n mens se tong regtig kan jeuk nie.
“Muffins met stroop en kaas,” fluister Minki.
Lara sit die verste van Natalie af. Dis te ver om te fluister. Sy loer na juffrou Adams se kant toe en maak ’n driehoek met haar vingers.
“Pizza?” raai Natalie.
Lara skud haar kop.
“Driehoekige ... broodjies?” waag Natalie nog ’n raaiskoot.
Lara skud weer haar kop.
Natalie frons. “Uhm ... ’n sny appeltert?”
“Driehoekige kasies!” fluister Lara.
Juffrou Adams frons en kyk op. “Is julle werk klaar?” vra sy met ’n kwaai stem.
“Amper, Juffrou,” antwoord Danika, asof juffrou Adams met haar gepraat het. “Maar dis moeilik om te konsentreer as Minki-hulle die heeltyd pssst-pssst . Hulle klink soos drie deodorantblikkies.”
Die klas proes van die lag.
Danika glimlag breed. Sy lyk soos iemand wat pas die Grap van die Jaar op TV vertel het.
Minki rol haar oë. Net omdat sy een keer in ’n sjampoe-advertensie was, verbeel Danika haar sy is ’n Hollywood-ster.
“Die klok gaan nou-nou lui vir pouse,” sê juffrou Adams. “Maak eers toe julle boeke, julle kan ná pouse aangaan. Ek het belangrike nuus.”
Dadelik maak almal hulle boeke toe en sit regop.
“Ons skoolsaal kort nuwe ligte en ’n beter klankstelsel. Dit kos baie geld. Daarom gaan al die klasse geld insamel. Ons graadgroep gaan ’n konsert hou.”
Almal begin opgewonde gesels. Juffrou Adams hou haar hand op vir stilte.
“Ons het besluit ons gaan Aspoestertjie opvoer,” sê sy.
’n Paar van die seuns kreun hardop.
“Hei, Arno, wil jy die prins wees?” lag Selwyn. “Dan kan jy die appel uit Aspoestertjie se mond soen!”
Die seuns skater van die lag. Arno se wange word rooi.
“Ek dink jy praat van Sneeuwitjie ,” sê Danika. “Aspoestertjie is die een wat ’n pragtige rok en glasskoentjies na die koninklike bal gedra het – en sy het lang blonde hare gehad.”
Danika gooi haar poniestert oor haar skouer. Dit lyk of sy juffrou Adams daaraan probeer herinner dat haar hare lank en blond is.
Minki se hare is deesdae in ’n kort bob gesny – en sy is mal daaroor. Kort hare is BAIE minder moeite in die oggend!
“Uhm ... ek dink regtig nie Aspoestertjie se haarkleur is belangrik nie,” sê juffrou Adams. “Die belangrikste is dat ons iemand kry wat perfek is vir die rol. En vir al die ander lekker rolle – soos die Goeie Fee, die prins, die nare stiefma en stiefsusters, die koetsier ... Elkeen van julle gaan ’n rol kry.”
“Kan ek die pampoen wees?” vra Arno. “Ek wil nie glasskoene vir iemand probeer aanpas nie. Glasskoene sweet seker erger as my rugbytoks.” Hy frommel sy neus. “Aspoestertjie se voete gaan vreeslik stink!”
Weer bars daar ’n gelag uit. Selfs juffrou Adams kan nie help om te glimlag nie.
“Reg, klas,” bring sy almal weer tot bedaring. “Môremiddag hou ons oudisies in die saal. Ek sal ’n lys met al die rolle buite die klas se deur opsit. Kyk deur die loop van die dag daarna, en besluit vir watter rol jy graag ’n oudisie wil doen.”
Die klok lui.
Minki kyk opgewonde vir Natalie en Lara. Die konsert klink na groot pret!
Hoofstuk 2
Pienk Pret
Later daardie middag lê Minki uitgestrek op die grasperk in hulle tuin. Langs haar lê Natalie en Lara.
Dit is ’n warm somermiddag, maar dit is lekker koel in die skaduwee van die groot ou eikeboom. Minki het vir haar en haar maats yskoue koeldrank met baie ysblokkies ingegooi.
Spaghetti kom snuffel-snuffel nader en lek aan Minki se koeldrankglas.
“Siestog,” sê Lara laggend. “Kyk, Spaghetti kry warm. Hy wil ook koeldrank hê.”
Spaghetti swaai sy stert asof hy baie van die idee hou.
“Nee, Spaghetti,” sê Minki. “Jammer, maar koeldrank is nie goed vir honde nie.”
“Wat van ’n ysblokkie?” vra
Natalie. Sy vis met haar vingers ’n ysblokkie uit haar glas en hou dit na die hond uit. Spaghetti gryp die ysblokkie opgewonde in sy bek. ’n Oomblik lank staan hy tjoepstil. Dan rek sy oë en hy laat val dit op die gras. Sy lang pienk tong hang omtrent op sy voete. Hy lyk so snaaks dat Minki-hulle uitbars van die lag.
“Kan honde breinvries kry?” proes Lara. “Soos wanneer ’n mens roomys eet?”
Spaghetti gee ’n vraende tjankie en stoot met sy neus aan die ysblokkie.